Die einste feit dat Egiptenare tot en met die aankondiging op Sondag, 24 Junie, geen idee gehad het wie tot president verklaar sou word nie, is 'n bewys van die merkwaardige verandering wat sedert die Januarie 2011-rewolusie in ons land plaasgevind het! President Mohammad Morsi (wat die Moslem Broederskap se presidensiële kandidaat was) staar ongelooflike uitdagings in die gesig ...
1. Hy moet die aspirasies van die regse Moslems bevredig wat daarvan droom om Islamitiese Sharia-wette toe te pas in beide geloof en praktyk op alle terreine van die privaat en openbare lewe. Aan die ander kant moet hy aan gematigde Moslems en Christene (tot 30% van die bevolking) demonstreer dat hy vryheid van uitdrukking en gelyke regte vir alle Egiptenare sal beywer, ongeag geloof of politieke affiliasie.
2. Hy het reeds verklaar dat die weermag sommige van die Presidensiële magte wat dit toegeëien het net dae voor sy verkiesing moet prysgee. Maar hy moet 'n kragmeting vermy (die eerste waarvan hy blykbaar verloor het toe hy die herinstelling van die ontbinde Parlement geëis het)
3. Hy moet die massas vinnig paai deur sommige van die endemiese ekonomiese indiensneming- en voorsieningskrisisse wat teen 'n kommerwekkende tempo toeneem, te begin oplos.
Terwyl sy verkiesing 'n skok vir die meeste Christene was, is baie verlig dat die spanning en geweld, wat kon ontstaan het as hy nie verkies is nie, afgeweer is. Dit is nou hoog tyd om "Egipte te herbou", maar ons moet nog 'n grondwet opstel en 'n Parlement herkies! Baie vrees dat hierdie proses ons aandag sal aflei om die komplekse onmiddellike kwessies wat die nasie in die gesig staar aan te pak.
Terwyl die nuwe president probeer werk met diametraal teenoorgestelde aspirasies van die verskillende groepe, wonder Christene wat die toekoms inhou en waar die prioriteite sal wees. In die volgende 2-3 dekades kan Egipte baie anders wees as wat ons dit vandag ken. Besluite deur die nuwe leierskap oor vrae wat verband hou met 'n burgerlike staat, ware demokrasie, vryheid van godsdiens en regte van minderhede is vir baie kommerwekkend.
Hoe ons wil hê jy moet vir ons bid:
1. Bid dat ons in die Bybelgenootskap sal voortgaan om te dink aan kreatiewe en gepaste maniere om God se Woord in die Egiptiese mark en in die harte van diegene wat God soek te plaas.
2. Bid dat Christene, in plaas daarvan om te smag om Egipte te vlug, met vrymoedigheid sal kies om te bly en 'n lewendige getuie en invloed ten goede in hulle behoeftige nasie te wees.
3. Bid vir die Kopties-Ortodokse Kerk terwyl hulle God se wil vir 'n nuwe Patriarg soek. (Die meerderheid Egiptiese Christene voel sedert die dood van Pous Shenouda in Maart beroof van leierskap.)
4. Bid dat gematigde Moslems sal kan weerstaan om gedwing te word om hulle aan die regse Islamitiese agenda te onderwerp. As hulle in staat is om weerstand te bied, is daar 'n baie beter kans dat Christene ook sal voortgaan om baie van die vryhede wat hulle nou geniet te handhaaf.