Die Britse advokaat sir Geoffrey Nice, wat die vervolging van die voormalige Serwiese leier Slobodan Milosevic gelei het, het gesê Wladimir Poetin moet vanjaar in die Oekraïne teregstaan vir oorlogsmisdade wat daar gepleeg is. Hy het sy verbasing uitgespreek dat aanklaers en politici dit nie 'veel meer vrylik en openlik uitspel nie'. Hy het Moskou se optrede tydens die inval beskryf as 'misdade teen die mensdom' aangesien burgerlike teikens aangeval is. Misdade teen die mensdom word beskou as die ernstigste oortredings onder die sogenaamde 'reëls' van oorlog. Hierdie wette verbied aanvalle op burgerlikes – of infrastruktuur wat noodsaaklik is vir hul voortbestaan – en word uiteengesit in internasionale verdrae soos die Geneefse Konvensies. Rusland se herhaalde aanvalle op die Oekraïense energienetwerk oor die winter word beskryf as oorlogsmisdade weens die skade wat burgerlikes aangerig is. Rusland beweer dat hy slegs militêre teikens tref. Kyiv se aanklaer-generaal het meer as 62 000 oorlogsmisdade aangemeld, insluitend meer as 450 kindersterftes.