"Politici van die Weste moet druk op Bosniese politici plaas sodat Katolieke oorlogsvlugtelinge uiteindelik ook na Bosnië kan terugkeer," het biskop Franjo Komarica van die bisdom Banja Luka, Bosnië-Herzegovina, gesê. Biskop Komarica, voorsitter van die Biskopskonferensie van Bosnië-Herzegovina, het in gesprek met die Katolieke liefdadigheidsorganisasie Aid to the Church in Need, 'n beroep op politici gedoen om seker te maak dat vlugtelinge se basiese regte gerespekteer word. Volgens die biskop het Katolieke, wat etnies Kroate is, nie dieselfde regte as Bosniërs en Serwiërs in die land ontvang nie. Biskop Komarica het gesê: 'Kroatiese Katolieke moet uiteindelik op gelyke voet met die ander twee etniese groepe gestel word. Hulle moet toegelaat word om van die buiteland af terug te keer en moontlikhede moet vir hulle geskep word om 'n lewe in hul tuisdorpe op te bou.'