Pole vrees Russiese inval

Europa - - 26 Mar 2015 - Print - Email

Rusland se ingryping in die Oekraïne is 'n groot bekommernis vir Pole wat vrees dat Moskou dalk 'n inval in hul land beplan. Dit het glo daartoe gelei dat toenemende getalle Pole by vrywillige paramilitêre groepe aansluit wat basiese militêre opleiding verskaf. Tot nou toe het die Poolse regering nie-amptelike milisies geïgnoreer. Nou soek dit na berig word 'n manier om die 120 vrywilligersgroepe wat met 'n ledetal van 10 000 spog, in te span. Sowat 800 lede van paramilitêre groepe het op 20 Maart in Warskou bymekaargekom om 'n vergadering by te woon wat deur die ministerie van verdediging aangebied is. Minister van verdediging, Tomasz Siemoniak, het die regering se besluit aangekondig om die lone van 2 500 mense te betaal wat die ruggraat van plaaslike vrywilligerseenhede sal vorm om in die geval van 'n oorlog gemobiliseer te word. In 'n onderhoud met Reuters het die Poolse president se hoofveiligheidsadviseur, generaal Stanislaw Koziej, gesê die nuwe benadering is aangespoor deur die konflik in die naburige Oekraïne, waar Rusland daarvan beskuldig word dat hy saam met pro-Moskouse separatiste geveg het.