'Die dorpenaars het ons begin slaan en skop, oral oor ons lywe. Hulle het ons gevra om Hindoe-gode te loof. Ons het geweier. Hulle het ons harder geskop.' Dit is wat met Sohan gebeur het, nadat hy besluit het om Jesus te volg en die evangelie met ander begin deel het. Sy aanvallers het toe die polisie gebel en hom daarvan beskuldig dat hy mense tot die Christendom bekeer het. Hy was vir vier dae in die tronk, en het gesien hoe God op wonderlike maniere werk. Sohan sê: 'Ek het die evangelie verkondig en gebid vir 'n gevangene wat siek was. Hy is genees en het onmiddellik in Christus geglo. My ander selmaat was 'n persoon wat aan intense depressie gely het. Hy het heeltyd gesê hy wil homself doodmaak. Ek het vir hom gebid en die selfmoordgedagtes het hom verlaat. Hy het ook Christus aangeneem. Ek het ook 'n jong man ontmoet wat valslik daarvan beskuldig is dat hy 'n vrou verkrag het; hy was baie ontsteld en het hopeloos gevoel oor sy lewe. Ek het die evangelie met hom gedeel, en hy het ook Christus aangeneem. Op hierdie manier het ek God se ontsaglike krag en verlossing gesien.' Geopende Deure-vennote kon Sohan uit die tronk laat borg en help hom om die valse eise teen hom te beveg.