Tyd vir ons nasie om terug te draai na God

Wat 'n tyd om te lewe! Dit lyk of alles om ons van sleg tot erger gaan. Ek het sopas gehoor dat in een area naby aan waar ek woon 75% van die mense geklassifiseer word as "ontneem en leef in armoede". En dit is in moderne Brittanje!

Wat het verkeerd geloop en wat kan verandering teweegbring?

Waar ons ook al kyk – in elke lewensterrein, in elke sfeer, in veelvuldige gemeenskappe – word standaarde geïgnoreer, moraliteit word op sy kop gekeer, waarheid vlieg by die venster uit, geweld neem toe, en dinge lyk al hoe meer desperaat. Mense vra "is daar 'n uitweg uit hierdie gemors?"

Ek is nie 'n doemprofeet nie. Ek is bewus daarvan dat God altyd 'n antwoord het. Histories, in tye van desperaatheid en agteruitgang, het God in situasies ingetree om radikale verandering teweeg te bring en om 'n komende oes aan te kondig. Hy doen dit ten spyte van ons sondigheid – want Hy wil genadig wees.

Dink aan die profeet Jona wat na Nineve gestuur is (in hedendaagse Irak) – beskryf as 'n "baie goddelose stad". Jona wou nie gaan nie oor hoe dit daar was, maar God wou genade bewys. Hy doen dit egter nie sonder Sy mense nie. Hy kies om ons in die proses te gebruik en te seën.

Die boek Romeine is gerig aan diegene wat "geliefd is deur God en geroep is om sy heilige volk te wees" (1:7).

Wat 'n wonderlike beskrywing van ons, van my, van jou! So ons kan onsself afvra - is dit waar? Is ek deur God geliefd – waarlik deur God geliefd – 'n God van volheid, van geregtigheid en heiligheid? Is ek een van Sy heilige mense? Is ek heilig? Indien nie, wat kan ek doen om dit te verander? Heiligheid is die karakter van God – "Wees heilig, want Ek is heilig", sê die Here (1 Petrus 1:15-16).

Maar die res van daardie eerste hoofstuk handel oor die verdorwenheid van die mensdom. Dit lees soos 'n beskrywing van ons moderne tyd. Drie keer skryf Paulus “God het hulle oorgegee” – wat ook al die kwessie was – seksuele onsedelikheid en afgodery, skandelike begeerlikhede (soos in selfdegeslag verhoudings), en aan verdorwe gedagtes – toe alles buite beheer geraak het. Lees verse 28-32 om te sien wat ek bedoel.

Ek glo God het die stadium bereik om ons aan ons eiesinnige sondes oor te gee. So, wat is die antwoord?

Ek moet eerstens reggestel word; om ontslae te raak van alles wat God aanstoot gee en Hom te vra om my 'n deeglike opknapping te gee - 'n volledige diens - 'n nuwe enjin of hart, een wat Hom en Sy heiligheid nastreef.

Tweedens moet die samelewing rondom my en individue en gesinne binne die samelewing, of die gemeenskap waarin ek woon of die een waarin ek werk, ontdek dat God werklik is. Die Evangelie is die antwoord. God se liefde is die antwoord. En gebed is die sleutel. Wanneer ons met geloof en passie vir ons bure, ons kollegas en ons gesin begin bid en dit vanuit 'n plek van eenheid doen, soos in gebedsdrieling – sal dinge begin verander.

God soek 'n ongekende oes – en ek en jy is die sleutel. Ons is die werkers, die arbeiders in Sy Oes. Dit is tyd om terug te draai na God, om in desperaatheid te bid dat dinge verander, en om gewillig te wees dat God ons as Sy instrumente van verandering gebruik. Dit is die bestanddele vir wat ek "'n nuwe Pinkster" noem.

Bid vir 'n Handelinge 2-ontmoeting vir jou gemeenskap!

Brian Mills is passievol oor gebed en is 'n Uitvoerende Lid van die International Prayer Council en 'n vennoot van Interprayer International Partnership. Hy is die skrywer van die boek God is Still Speaking.

Read 2431 times