Print this page

Soedan: Militêre oorname en 'n verlies aan demokrasie

Soedan: Militêre oorname en 'n verlies aan demokrasie

Soedan se weermag het Maandag 25 Oktober die mag oorgeneem en die oorgangsregering ontbind ure nadat troepe die waarnemende premier en ander amptenare gearresteer het. Duisende mense het die strate ingestroom om teen die staatsgreep te protesteer wat die land se wankelrige vordering na demokrasie bedreig.

Die oorname kom meer as twee jaar nadat betogers die uitsetting van die jarelange outokraat Omar al-Basjir gedwing het en net weke voor die weermag verwag is om die leierskap van die raad wat die Afrika-land bestuur aan burgerlikes oor te gee.

Ná die vroeë oggend-inhegtenisnemings van premier Abdalla Hamdok en ander amptenare het duisende die strate van die hoofstad, Khartoem , en sy tweelingstad, Omdurman, ingestroom. Beeldmateriaal wat aanlyn gedeel is, het blykbaar gewys dat betogers strate versper en bande aan die brand steek terwyl veiligheidsmagte traangas gebruik het om hulle uiteen te jaag.

Die VSA, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Brittanje het 'n gesamentlike verklaring uitgereik ter ondersteuning van "'n demokratiese en vreedsame" Soedan, waar die burgerlike regering op 25 Oktober in 'n militêre staatsgreep verdryf is.

“Ons onderskryf die internasionale gemeenskap se ernstige kommer oor die situasie in Soedan. Ons doen 'n beroep op die volle en onmiddellike herstel van sy burger-geleide oorgangsregering en instellings,” lui die verklaring van “QUAD for Soedan” wat deur die Amerikaanse departement van buitelandse sake vrygestel is.

Die lande het 'n beroep gedoen op die opheffing van 'n noodtoestand en "'n doeltreffende dialoog tussen alle partye" om te help "verseker dat die vrede en veiligheid vir die mense van Soedan 'n topprioriteit is."

Dit is egter asof twee jaar in ’n japtrap verdwyn het. Twee jaar se werk om Soedan uit die koue te bring ná byna drie dekades van isolasie. Twee jaar se pogings om 'n burgerlike regering te vestig. Twee jaar van rou oor diegene wat gesterf het in Soedan se rewolusie om Omar al-Basjir te verdryf. En twee jaar van voorlopige hoop dat hierdie sterftes dalk nie tevergeefs was nie. Op die ou end was al wat saak gemaak het dat dit twee jaar was waartydens die weermag moeg geword het om met burgerlikes saam te werk in 'n oorgangsooreenkoms vir magsdeling. Verlede week het die weermag die mag oorgeneem in 'n staatsgreep wat alles uitgewis het wat die Soedanese mense gekry het sedert Bashir se militêre regering in 2019 omvergewerp is.

Meer: VoA , NBC , Guardian

Bid : Vir God se wysheid onder die heersers van Soedan, dat hulle na vreedsame weë kan terugkeer. (Romeine 13:1-7)

Bid: Vir die internasionale gemeenskap se pogings om die situasie vreedsaam op te los en ter ondersteuning van die mense van Soedan, dat hulle die situasie positief kan beïnvloed.

Bid: Dat die mense van Soedan hoop sal ken in hierdie tyd van onsekerheid, dat hulle sal vashou aan die visie vir 'n vreedsame en demokratiese Soedan.