Dit is nou byna drie maande sedert die militêre staatsgreep in Mianmar. Die junta het sy onderdrukking teen betogers verskerp, met ongeveer 600 mense wat nou vermoedelik vermoor is. Vir die land se minderheid Christenbevolking is daar steeds vrees – nie net vir hul veiligheid nie, maar vir gedwonge werwing na die weermag. In hierdie opdatering deel Christene in die land ervarings en vrese, sowel as dankbaarheid vir jou voortdurende gebede. Alle name is verander om identiteite te beskerm.
Gegewe die kommunikasiebeperkings in Mianmar, is dit moeilik om inligting van Geopende Deure se plaaslike vennote in die land te bekom. Wanneer kontak gemaak word met gelowiges, spreek die vrees en onsekerheid harder as hulle woorde.
“Ek hoor elke dag geweerskote en klankgranate naby my huis,” vertel Min Naing* van Yangon, Myanmar se grootste stad. “Die geluid kom net een bushalte van my huis af. Snags skakel die meeste huise nie ligte aan na 20:00 nie. En niemand maak enige geraas nie. Dit gebeur al vir sowat twee weke. Soms hoor ek geweerskote in die aand en omstreeks middernag. Ons bly ook bedags binnenshuis. Ons kan nie uitgaan nie, behalwe om vullis uit te sit en inkopies te doen vir kruideniersware. Ek woon in die middel van Yangon sonder sekuriteit. Bid asseblief vir die veiligheid van my en my gesin.”
Pastoor Kyaw* lei 'n kerk in 'n township waar krygswet ingestel word. As gevolg van die daaglikse geweervuur naby die kerkgebou, was dit onmoontlik om kerkaktiwiteite te reël. “My vrou kon al twee weke lank nie slaap nie,” vertel die pastoor. “Dis hoekom ons na 'n ander dorp gevlug het. Toe ons in die dorp aankom, moes ek ná twee dae weer vlug, want die weermag was besig om nog soldate te werf.” Gelukkig is die egpaar nou tuis en veilig, maar sonder internet. Die pastoor is bekommerd dat hy nie toegang tot die nuus het nie.
Gelowiges skuil in die bos
Ander loop ook die risiko om met geweld by die weermag ingeskakel te word. "In 'n afgeleë dorpie lei 'n pastoor 'n klein kerkie," berig broer Lwin*, 'n plaaslike vennoot van Geopende Deure. “Daar is geen soldate of polisie in hul dorpie nie, so gereeld word daar elke aand gebid. Verlede week is die dorpshoof gevra om 30 mans vir die weermag in hul dorp te werf. Nou kruip die gelowiges, insluitend die pastoor, in die bos weg.”
Broer Lwin en ander leef en werk onder enorme spanning as gevolg van die onsekerheid en vinnig veranderende situasie. Niemand se veiligheid is gewaarborg nie. Maar een ding is seker: Broer Lwin en die ander gelowiges weet hulle is nie alleen nie. “Dankie dat jy saam met ons gestaan het tydens hierdie krisis,” deel broer Lwin. “Ons weet nie hoe of wanneer dit verby sal wees nie. Bid asseblief dat die gelowiges sterk sal staan in hul geloof, en dat ongelowiges – van wie baie gefrustreerd en hopeloos is, selfs met hul eie geloof – die ware en lewende God sal leer ken.”
*Name verander vir veiligheid van individue
Meer by: https://www.opendoors.org.hk/en/christians-in-myanmar-fear-for-safety-and-forced-recruitment-to-army/
Bid dat die geweld en buite-geregtelike moorde op vreedsame betogers sal stop.
Bid dat die internasionale diplomasie en sanksies tesame met die sterk wil van die mense van Birma die Junta sal laat neerkom en die demokraties verkose leiers sal bevry.
Bid dat Beijing nie voordeel trek uit hierdie onstabiliteit nie.
Bid in meer diepte deur hierdie hulpbronne te gebruik: Gebedsgids | Operasie Wêreld | Joshua Projek | Oop Deure