Nigerië: 120 Christene vermoor in drie weke

Nigerië: 120 Christene vermoor in drie weke

Die onlangse dodetal van Christene in Nigerië het 120 bereik met hierdie week se slagting van meer as 50 deur Fulani Moslem-militante in die Kaduna-staat Nigerië, het die Christian Post berig.

Die Fulani-jihadiste, wat 'n groter bedreiging vir Nigeriese Christene geword het as die Islamitiese terreurgroep Boko Haram, het verlede Maandag die dorpies Inkirimi, Dogonnoma en Ungwan Gora in die Kajuru Plaaslike Regeringsgebied bestorm en 143 huise vernietig, 52 mense doodgemaak, en nog tientalle gewond.

Die aanvallers het glo in drie groepe verdeel, waarvan die eerste op die mense geskiet het, die tweede geboue aan die brand gesteek het en die derde mense wat van die toneel gevlug het, agternagesit het. Slagoffers van die aanranding het vroue en kinders ingesluit.

Maandag se voorval het gevolg op 'n aanval die vorige dag in die UngwanBarde-dorpie in Kajuru, waar 17 Christene dood is en dosyne huise verbrand is.

In die eerste week van Maart het Moslem-ekstremiste meer as 30 Christene in die dorpie Karamar uitgemoor en verskeie huise en 'n kerk aan die brand gesteek. Die terroriste het glo op gesinne geskiet wat probeer het om die vuur te ontsnap en 32 doodgemaak.

Die vlaag onlangse aanvalle teen gemeenskappe het plaasgevind binne die oorwegend Christelike Adara-kapteinskap van suidelike Kaduna.

Die goewerneur van die Kaduna-staat, Nasir El-Rufai, het 'n skemer-tot-dagbreek aandklokreël op die Kajuru Plaaslike Regeringsgebied ingestel om die geweld te probeer bedwing.

Aan die einde van Februarie het militante die Maro-dorpie aangeval, 38 Christene doodgemaak en huise sowel as 'n Christelike kerk aan die brand gesteek.

Die Christian Post het berig dat Fulani-militante duisende Christene in 2018 alleen vermoor het in wat baie 'n Christelike volksmoord in Nigerië se Middelgordel noem.

Verlede Desember het 'n leidende Anglikaanse biskop in Nigerië, dr. Benjamin ArgakKwashi, gesê dat die Moslem Fulani-militante die nommer een terreurbedreiging verteenwoordig wat Christene in Nigerië in die gesig staar.

"Die regering is in staat om beskerming [aan die Christene] te bied, maar wat vir almal duidelik is, is dat die regering onwillig is," het Kwashi aan Breitbart News gesê.

"Die Fulani-veewagters is 'n groter bedreiging," het Kwashi bygevoeg. “Boko Haram werk in die noordooste en trek skaars na ander gebiede, maar die Fulani-veewagters is wydverspreid. Hulle is nou oral. Die Fulani is dus ’n groter bedreiging.”

Bid dat die plegers van hierdie aanvalle gevang sal word en tot verantwoording geroep sal word vir hul dade.

Bid vir die slagoffers en hul gesinne – dat hulle bewus sal wees van die Hemelse Vader se liefde wat hulle omring in hul hartseer en lyding.

Bid dat die Fulani-jihadiste en Boko Haram belemmer sal word in al hul pogings om terreur na die Christene en minderheidsgroepe te bring.

Bid vir wysheid en karaktersterkte vir die Staatsgoewerneurs en militêre bevelvoerders terwyl hulle beheer oor hierdie moeilike situasies neem.

DEUR THOMAS D. WILLIAMS, PH.D.

Meer by: https://www.breitbart.com/africa/2019/03/16/nigerian-muslim-militants-kill-120-christians-three-weeks/