Iran wil samesprekings oor sy kernprogram hervat

Iran wil samesprekings oor sy kernprogram hervat

In oënskynlike reaksie op die instelling van nuwe sanksies deur die Weste, vra Iran vir 'n nuwe rondte samesprekings oor sy kernprogram met die Verenigde State en vyf ander wêreldmoondhede. Teheran se uraanverrykingsprogram kan lei tot die ontwikkeling van kernwapens. Dit is vir ons belangrik om te bid, want die laaste rondte van onderhandelinge tussen Iran en die vyf permanente lede van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad plus Duitsland wat 'n jaar gelede plaasgevind het, was onsuksesvol. Die Iranse onderhandelaar het gesê: "Ons het formeel aan hulle verklaar om terug te keer na die pad van dialoog vir samewerking."

Bid asseblief dat hierdie samesprekings suksesvol sal voortgaan en dat die Iraniërs sal instem om aan die bekommernisse van die internasionale gemeenskap te voldoen en enige planne om kernwapens te bou wat die veiligheid van die hele streek en ons wêreld sal destabiliseer, te staak. Bid dat Islamitiese radikalisme en apokaliptisisme deur die Iranse volk gediskrediteer en verwerp sal word en dat gematigde, goeie leiers in daardie nasie opgewek sal word wat die welstand van hul eie mense en die streek sal nastreef. God is in staat om verandering in hierdie gevaarlike situasie te bring as ons in geloof bid!