Soedan: Desperate situasie in die Nuba-berge ... kinders sterf

Soedan: Desperate situasie in die Nuba-berge ... kinders sterf

Sien asseblief hierdie ontstellende boodskap van Juba oor die situasie in die Nubaberge. Op die oomblik staar baie mense, insluitend kinders, 'n lewe/dood situasie in die gesig. Norman Johnson wat 'n gebedsnetwerk vir Soedan lei, skryf: “Mag ons deur die liefde van Christus beweeg word tot deernis vir hierdie mense. Lig hulle asseblief op na die Vader se genadetroon en vir 'n uitkoms vir die situasie in die Soedan. Bid vir die vervulling van God se bestemming met die nasies van Soedan/Suid-Soedan.” Hy het hierdie brief ingesluit van 'n bedieningsleier in Soedan wat die huidige konflik en lyding van die mense beskryf:

Liewe Norman,

Ek het gesien wat gebeur as die wêreld sy rug draai en anderpad kyk. Ek het 20 jaar lank in Soedan gewerk en sy mense gehelp om deur die gruwels van hongersnood en moorddadige aanvalle te sukkel. Tydens Soedan se burgeroorlog is die mense in die suide afgemaai. Skokkend, dit het die dood van meer as 2 miljoen geneem voordat die wêreld dit uiteindelik volksmoord genoem het.

Toe president George W. Bush op sy amp kom, het hy nie anderpad gekyk nie. In plaas daarvan het hy alle partye betrek en hulle gedwing om te gaan sit om te onderhandel oor wat ons gehoop het 'n einde aan die geweld sou wees. Dié samesprekings het gelei tot die ooreenkoms wat gelei het tot die onafhanklikheid van Suid-Soedan.

Ek was in president Omar al-Basjir se kantoor op die dag toe die Internasionale Strafhof hom vir oorlogsmisdade aangekla het. Ek het by mnr. Bashir gepleit om die vredesproses voort te sit en verduidelik dat alhoewel hy nie kan verander wat hy in die verlede gedoen het nie, hy 'n nuwe koers vir sy mense kan inslaan deur te werk vir 'n blywende vrede. Twee jaar later, op 9 Julie 2011, was ek in Juba en sit agter mnr. Bashir terwyl hy 'n toespraak gehou het tydens die Republiek van Suid-Soedan se onafhanklikheidseremonies. Hy het van vrede gepraat, maar binne dae het hy sy eie mense in Suid-Kordofan en die boonste Blou Nyl begin aanval.

Verlede week het ek na Suid-Kordofan gereis waar 800 000 mense stadig uitgeroei word, slagoffers van etniese suiwering. Volgens mnr. Bashir is hul enigste misdaad dat hulle swart is en hulle nie voor sy radikale Islamitiese regering sal buig nie. Die afgelope nege maande het die wêreld grootliks anderpad gekyk met hierdie humanitêre krisis.

Die situasie is desperaat. Ek persoonlik het kinders verlede week sien dood van honger terwyl hulle in Soedan se Nuba-berge was. Al wat hulle moes eet was insekte, blare van doringbosse, wortels en boombas. Dit gaan net erger word.”

Bid asseblief vir 'n einde aan die konflik wat weer begin het na 'n paar jaar van vrede en die verdeling van Soedan in twee nasies. Mag genesing en versoening na hierdie twee nasies kom wat soveel redes het om saam te werk vir die verbetering van albei.