Iran se voortdurende druk op kerke

Iran se voortdurende druk op kerke

Gebed word versoek oor die Iranse regering se veldtog van intimidasie teen Christene en Kerke.

Dit is jammer om te rapporteer dat een kerk gedwing is om te sluit. Op Dinsdag 5 Junie is die Assemblies of God-kerk in Teheran se Janat-Abad-voorstad aangesê om alle aktiwiteite te staak, en gedreig met die konfiskering van sy gebou.

Onthou dat leiers van 'n ander Assemblies of God-kerk in Teheran vroeg in Mei deur die Ministerie van Intelligensie beveel is om die name en ID-nommers van alle lede in te dien. Kerkleiers het 'n lys van name en ID-nommers verskaf van kerklede wat hul toestemming gegee het, van wie sommige daarna deur die owerhede onder druk geplaas is.

Onthou ook dat, sedert vroeg in Februarie, twee ander wetlik erkende kerke in Teheran beveel is om op te hou om Farsi-taaldienste op Vrydae te hou, en dat verskeie lede van Anglikaanse, Presbiteriaanse en Assemblies of God Kerke gearresteer is. Twee van hulle is onder minstens 20 gelowiges (die meeste van Moslem-agtergronde) waarvan bekend is dat hulle nog aangehou word.

Iranse Christene wat hierdie gelowiges ondersteun, bedank ons vir ons gebede. Hulle versoek ons volgehoue voorbidding en vra dat:
a. Die sluitingsbevel sal omgekeer word en ander beperkings op kerke word opgehef.
b. Alle Christene in Iran sal die beskerming van die Vader, troos van die Seun en die leiding van die Heilige Gees ken.
c. Hulle sal vir aanbidding, gebed, Bybelstudie en gemeenskap met eendersdenkende gelowiges kan ontmoet.
d. Daardie gelowiges wat tans aangehou word, sal die teenwoordigheid en vrede van Jesus ken en binnekort vrygelaat word.
e. Kerk- en gemeenskapsgroepleiers sal die Gees se onderskeidingsvermoë en wysheid ken
f. Alle betrokke amptenare sal barmhartigheid liefhê, regverdig optree, van Jesus leer en kies om Hom te volg.