Ongeveer 60 dorpe in die suide van Frankryk is amptelik tot natuurrampgebiede verklaar ná erge vloede wat deur stortreën veroorsaak is, het die Franse minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve, Dinsdag aangekondig. Vloedwater het paaie en snelweë oorstroom en motors verswelg ná die Lez-rivier, wat by die kusstad Montpellier vloei en sy walle gebars het. Meer as 4 000 mense regoor die reëndeurdrenkte streek het die nag in noodsentrums, skole, treinstasies of die lughawe deurgebring, het die plaaslike regering in 'n verklaring gesê. Volgens die owerhede is noodwerkers meer as 1 200 keer uitgeroep, gerugsteun deur drie helikopters. 'Ons sal natuurrampmaatreëls vir ongeveer 60 dorpe instel,' het Cazeneuve aan plaaslike media gesê en bygevoeg dat hy later Dinsdag na die vloedgeteisterde streek sal vertrek. Daar word verwag dat reën teen Dinsdag sal afneem en meteoroloë het die maksimum rooi waarskuwing afgegradeer na oranje in die streek.