Die leiers van Frankryk en Duitsland gaan die Oekraïne se president druk om in te stem tot 'n nuwe wapenstilstand in die ooste van die Oekraïne wanneer hulle Woensdag telefonies praat. President Francois Hollande van Frankryk het die beplande samesprekings met Duitsland se kanselier Angela Merkel en die Oekraïne se president Petro Poroshenko aangekondig. Oekraïne sê hy sal nie met separatistiese rebelle praat totdat hulle ontwapen nie. 'n Separatistiese amptenaar in die stad Donetsk, waar die rebelle hergroepeer nadat hulle veld verloor het, het enige nuwe wapenstilstand uitgesluit. Regeringsmagte het die afgelope dae verskeie groot dorpe van die rebelle herower nadat hulle hul 'anti-terroriste-operasie' in die Donetsk- en Luhansk-streke hervat het. In Donetsk self, 'n stad van meer as een miljoen mense, het die rebelle belowe om aan te hou veg teen die regering, wat hulle as onwettig beskou. Meer as 1 000 mense, beide burgerlikes en vegters, is vermoedelik dood sedert die opstand in April begin het.