Die vervolgde Iranse Christene behoort aan wat na bewering die vinnigste groeiende kerknetwerk in die wêreld is. Die kern van hulle teologie is dat alle paaie na Jerusalem lei, en daarom bid hulle vir die redding van Israel. Hulle voel dat daar geprofeteer is (Jer. 30:7; Sag. 14:2) dat in die dae wat Jesus se terugkeer na Jerusalem as Koning nader, daar moeilikheid vir die Joodse staat sal wees. Die Persiese volk (soos baie Iraniërs steeds verkies om genoem te word) het Israel in die verlede geseën. Koning Kores het die ballinge bevry sodat hulle na die Land kon terugkeer en die Tempel kon herbou; Koningin Ester het haar volk van uitwissing gered, sodat Iranse Christene in die bres vir die Joodse volk kan staan. Wat Satan vir die kwaad bedoel het, kan God ten goede keer.