Drie Amerikaanse burgers is deur Noord-Korea uit die tronk vrygelaat, volgens 'n twiet op 9 Mei van die Amerikaanse president Donald Trump. Dit word beskou as 'n welwillendheidsgebaar voor 'n geskiedkundige beraad tussen mnr Trump en Kim Jong-oen. Mnr Trump het die mans gegroet toe hulle teruggekeer het saam met Mike Pompeo, minister van buitelandse sake, wat in Pyongyang was om 'n datum en plek vir die beplande samesprekings te reël. Sendeling Kim Hak-song, humanitêre werker Tony Kim en pastoor Kim Dong-chul het 'sonder bystand' op die vliegtuig geklim, het die Withuis gesê. Hulle is tronk toe gestuur vir beweerde anti-staat aktiwiteite en in arbeidskampe geplaas.