Roemenië: gebede beantwoord

Verlede week het ons gebid vir 'n vreedsame en bevredigende uitkoms toe 200 000 mense die strate ingevaar het oor 'n regeringsbevel om dosyne amptenare te bevry wat vir korrupsie tronk toe gestuur is. Hierdie week het Roemenië se regering die omstrede besluit geskrap. Nou sal baie politici nie meer beskerm word teen vervolging vir korrupsie nie. Die besluit het op 'n noodvergadering oor die kwessie gekom, ná dae van verdere straatbetogings. Een van diegene agter die stap het gesê dit was om kalmte in Roemenië te herstel, maar het ook die regbank sterk gekritiseer. Betogers het belowe om die druk op die kabinet te hou, met sommige wat geëis het dat die hele regering moet bedank. Een van hulle, Daniel, het gesê: 'Ek hoop dat dit 'n ware herroeping is. Ons gaan hulle dophou om seker te maak ons word nie gehad nie'. Die betogings was die land se grootste sedert die val van kommunisme in 1989.