Print this page

Indië: 564 slawe gered

'n Reddingsoperasie deur die Indiese polisie en International Justice Mission (IJM) het 564 vroue, kinders en mans van dwangarbeid by 'n massiewe baksteenoond gered. Dit is IJM se grootste operasie teen slawerny ooit. Dit het plaasgevind in dieselfde fabriek waar hulle 500+ slawe in 2011 gered het. By daardie geleentheid het die oondeienaar op borgtog vry geloop; hierdie keer het die polisie hom en vyf ander van 'n georganiseerde mensehandelnetwerk gearresteer. Hulle sal aangekla word ingevolge Indië se wette teen mensehandel en Wet op Bonded Labour. Die operasie beklemtoon 'n kritieke behoefte in die stryd teen slawerny. Werkers woon in kamers met sinkdak of verslete tente, en ontvang 'n toelaag wat skaars die laagste gehalte rys koop. Baie eet vir dae op 'n slag nie. Hulle vorm, stapel en sleep swaar stene vir ure aaneen, terwyl hulle verbale en fisieke mishandeling ervaar. As misdadigers vry bly, sal die geweld voortduur. Maar as wette toegepas word en handelaars tronk toe gaan, kan ons slawerny vir goed beëindig.