Veertig ontvoerde Assiriese gelowiges is deur IS vrygelaat. Hulle was onder die 230 wat 'n jaar gelede geneem is. Miljoene dollars is in losprys betaal. Die gevangenes is vrygelaat en na die dorp Tal Tamr gestuur, na bemiddeling deur 'n top Assiriese priester in die noorde van Sirië. IS het 'n losprys van £12,77 miljoen vir die groep geëis: dié syfer is later ná onderhandelinge verlaag, maar die finale bedrag is nie bekend nie. 'n Siriese Christen het gesê die wêreldwye Assiriese gemeenskap het 'n veldtog geloods vir die vrylating van die gevangenes kort nadat hulle ontvoer is. ’n Bankrekening is in die Irakse stad Irbil geopen en skenkings het van regoor die wêreld begin instroom. "Ons het miljoene dollars betaal vir hul vrylating, maar dit was minder as die helfte van die bedrag waarvoor gevra is," het die woordvoerder gesê.