Pakistan is een van die wêreld se voorste vervolgers van Christene. Iranse en Afghaanse gelowiges staar minder vervolging in die gesig as Pakistan se Christene. Die meeste Christene is in die laer kaste, en word uitgebuit deur die hoër kaste. Christenvroue en -meisies is kwesbaar. Berigte dui op 'n stille epidemie van ontvoerings, gedwonge huwelike en gedwonge bekerings van Christenmeisies en -vroue. Die staatsowerhede doen min om hierdie praktyk teë te werk. Hierdie endemiese vooroordeel en vervolging word nie in die Weste se media gerapporteer nie. 'n Tipiese geval is van 'n 13-jarige Christenmeisie wat deur 'n 44-jarige Moslemman ontvoer word. Twee dae later het haar pa ontdek sy het tot Islam bekeer en was getroud met die man, wat reeds 'n vrou en twee kinders gehad het. Elke jaar word ongeveer 1 000 Christen- en Hindoe-meisies en jong vroue ontvoer, seksueel aangerand, met geweld tot Islam bekeer en met hul ontvoerders getroud. In die meeste gevalle word die slagoffers tot stilte geïntimideer en bly hulle gevange.