Print this page

Nicaragua: Katolieke priesters tronk toe

Vier Katolieke priesters is aangekla van hoogverraad en is tien jaar tronkstraf opgelê in 'n toenemende onderdrukking van kritici van president Daniel Ortega. Twee Katolieke seminariste is ook op dieselfde aanklagte dieselfde vonnis opgelê. Al ses behoort aan Matagalpa-bisdom, gelei deur biskop Rolando Alvarez, wat verhoorafwagtend onder huisarres is. ’n Kameraman vir Katolieke televisie is ook vir tien jaar tronk toe gestuur. "Ons veroordeel hierdie perverse optrede van die regime, wat menseregte skend," het die Nicaraguaanse Sentrum vir Menseregte op Twitter geskryf. Hulle het gevra dat die mans onmiddellik vrygelaat word. Ortega teiken kritiese Katolieke Kerk-leiers na landwye betogings in 2018. Hy het hulle daarvan beskuldig dat hulle probeer het om hom omver te werp toe hulle as bemiddelaars met betogers gedien het in die onrus wat 300+ lewens geëis het. Sedertdien het sy regering Katolieke nonne en sendelinge verdryf, Katolieke radio- en televisiestasies gesluit en meer as 'n dosyn priesters gearresteer.