Thailand: 23 kinders vermoor

Duangphan Patphaothanun dwaal buite 'n kindersorgsentrum en hou 'n sak vol speelgoed vas. Sy wil weet wanneer sy haar kleinseun kan sien, sodat sy sy kosbaarste besittings by hom in sy kis kan plaas. Die driejarige Pattarawut is een van die 23 kinders wat op 6 Oktober gesterf het in 'n aanval by die sentrum, in die noordooste van Thailand. Panya Kamrab, ’n voormalige polisieman, het minstens 37 mense, insluitend sy vrou en stiefseun, vermoor voordat hy homself ná ’n soektog om die lewe gebring het. Sy stiefseun het vroeër die sentrum bygewoon, maar was vir 'n maand nie daar nie. Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie, maar die polisie het gesê Kamrab is in Junie by sy werk afgedank weens dwelmgebruik. Meer as 90 kinders woon gewoonlik die sentrum by, maar weens swak weer en 'n busonderbreking was net 24 van hulle Donderdag daar. Slegs een kind het oorleef.