Nigerië: militante maak Christene dood, soldate doen niks

Op 28 Januarie het 'n kontakpersoon in Nigerië meer as 500 koeëldoppies ontdek wat gebruik is vir die moord op agtien Christene in die Ancha-dorpie, sowat twee uur van die hoofstad van Plateau-staat geleë. Dorpsbewoners het gesê die aanvallers was Fulani-militante wat in swart geklee was, terwyl ander die uniform van die Nigeriese weermag gedra het. Dertig soldate met AK47's was in 'n klaskamer in die gemeenskap gestasioneer toe die aanval gebeur het. Die omgeboude klaskamer het as 'n kaserne vir die soldate gedien. Ten spyte daarvan dat hulle in die dorp gestasioneer is, het die soldate dit nie teen die invallende militante verdedig nie. In plaas daarvan het hulle gestaan en kyk hoe huise verbrand word, motors en kos vernietig word en dorpenaars doodgemaak word. Tydens die aanval het die soldate slegs hul twee voertuie en die omgeboude klaskamer beskerm. Hierdie aanval is net die jongste in 'n jare lange patroon van militante geweld wat teen Ancha en naburige dorpe gepleeg is. Dikwels behoort koeëldoppies wat gevind word aan die weermag.