In die Siriese oorlog is die dorp Maaloula – een van die min plekke waar mense nog ’n dialek van Jesus se taal, Aramees, praat – deur Islamitiese al-Nusra-militante beset. Byna al die dorp se 3 000 inwoners, meestal Christene, moes uit hul huise vlug. Gelukkig is die dorp nou bevry. Baie huise is in die gevegte beskadig, en elke kerk is verbrand of gevandaliseer, maar sommige gelowiges het nou teruggekeer. Met ondersteuning van plaaslike kerke en vennote van Geopende Deure, begin gesinne om hul huise te herbou. Vier is reeds herbeset, en in die komende maande verwag hulle dat die ander huise ook klaar sal wees. Geleidelik word die infrastruktuur in Maaloula ook herstel. ’n Bakkery, apteek en boekwinkel het weer hul deure oopgemaak.