Noord-Korea is in totale krisis. Vervolging van Christene is erger daar as enige ander plek in die wêreld. Hongersnood hou groot dele van die nasie in sy greep en ongekende duisende leef in armoede en ellende. Die bevolking word onkundig gehou van die buitewêreld en met geweld geïndoktrineer in 'Juche'-ideologie wat fokus op die selfgenoegsaamheid van die mens. Dit leer 'n drie-eenheid wat bestaan uit die vader (oorlede leier Kim Il-Sung), seun (huidige leier Kim Jong-Il) en die 'Juche-gees' van selfstandigheid. Christene in Noord-Korea word gedwing om hul geloof geheim te hou aangesien alle gelowe streng onderdruk word en diegene wat ontdek word, staar marteling, arbeidskampe en selfs die dood in die gesig. Bid asseblief vir krag en moed vir die geskatte 50 000 Christene wat tans in Noord-Korea se gevangeniskampe is. Bid ook vir veilige druk en verspreiding van Bybels aan Noord-Koreaanse Christene, en veilige uitreikwerk onder Noord-Koreaanse oorlopers in China se grensgebiede.
Bid: dat baie Noord-Koreane reageer op die hoop en waarheid van die drie-enige God, en dat Christene versterk sal word. (Mal.4:2)