Protestantse kerke in die Demokratiese Republiek van die Kongo het 'n 'noodkreet' uitgespreek ná toenemende moord en verplasing van burgerlikes in die gevegte tussen die weermag en rebelle in die oostelike dele van die land. Honderde mense is volgens verskeie verslae dood, maar presiese getalle is moeilik om vas te stel. Meer as 15 000 het skuiling in Rwanda en Uganda gesoek, volgens die kerke. "Ons veroordeel hierdie oorloë en die poging van die rebelle om ons land te balkaniseer," het ds Josue' Bulambo Lembelembe, 'n vise-president van die Kerk van Christus in die Kongo in Noord-Kivu in 'n verklaring op 4 Augustus gesê. Sedert 1994 het na raming ses miljoen mense in betekenislose oorloë gesterf, het die kerke gesê. Tans is byna twee miljoen mense in die DRK ontheem en miljoene is uitgelewer aan milisies wat vermoor, verkrag en plunder, volgens Oxfam, 'n Britse liefdadigheidsorganisasie.
Bid: vir die mense van DR Kongo dat God sal ingryp en die moord sal stop en die noodkreet sal beantwoord. (Ps.5:1-4)