Christen bekommerd oor vryheid van spraak

Hatun Tash, 'n Christelike straat-evangelis wat gereeld by Hyde Park se Speakers' Corner preek, het kommer uitgespreek oor vryheid van spraak in die VK nadat Edward Little (21) op 19 Mei skuld beken het vir 'n poging om haar dood te maak. In September het die polisie hom in hegtenis geneem toe hulle hom in besit van duisende ponde in kontant gevind het, met die bedoeling om 'n geweer te koop om Tash en haar kameraspan te vermoor. Hy is aangekeer voordat hy sy plan kon uitvoer. In reaksie op sy skulderkenning, het Tash gesê: 'Ek is bly dat die polisie in staat was om op te tree en mnr Little te keer voordat hy my en mense om my benadeel het. Dit behoort almal in die VK te bekommer. Dit wys dat die leer van Islam nie versoenbaar is met Britse waardes as dit mans inspireer om Christen-evangeliste te probeer vermoor nie.'