AstraZeneca en Oxford Universiteit se finale kliniese toetse vir 'n koronavirus-entstof is opgehou nadat 'n deelnemer 'n vermoedelike nadelige reaksie gehad het. AstraZeneca het dit beskryf as 'n 'roetine' pouse in die geval van ''n onverklaarbare siekte'. Die AstraZeneca-Oxford Universiteit-entstof word beskou as 'n sterk aanspraakmaker onder dosyne wat wêreldwyd ontwikkel word. Hoop was groot dat die entstof dalk een van die eerstes is wat op die mark kom, na suksesvolle fase 1 en 2-toetsing. Fase 3-entstofproewe behels dikwels duisende deelnemers en kan etlike jare duur. Alhoewel die oorsaak van die siekte nie bevestig is nie, het die New York Times berig die vrywilliger is gediagnoseer met transversale myelitis, 'n inflammatoriese sindroom wat die rugmurg aantas en deur virusinfeksies veroorsaak kan word.