Theresa May is tans op 'n drie dae lange staatsbesoek aan China, om die uitbreiding van handel tussen die twee lande te bespreek. CSW sê hoewel sulke gesprekke belangrik is, moet dit nie ten koste gaan van president Xi uitdaag oor sy behandeling van Christene nie. Mev May se besoek val saam met nuwe beperkings op kerke. Die regering wil hê dat alle kerke geregistreer moet word, en die aanstelling van leraars en wat hulle leer, moet beheer. Sommige Christene kan dit eenvoudig nie doen nie. Christene wat nie deel is van die amptelike, deur die regering gesanksioneerde kerk nie, word as bose kultusse gebrandmerk. Ses lede van 'n ongeregistreerde kerk is vandeesmaand in die Yunnan-provinsie tot 13 jaar tronkstraf gevonnis vir 'die gebruik van 'n bose kultus om wetstoepassing te organiseer en te ondermyn', en 'n kerk met 500 lede in die Shanxi-provinsie is met dinamiet gesloop.