Sir Cliff: 'onwettige samespanning'

Sir Cliff Richard glo die uitsending van 'n polisieklopjag by sy huis in Berkshire in 2014 was die gevolg van 'onwettige samespanning.' Die operasie – regstreeks deur BBC News uitgesaai – kom ná bewerings dat die Christelike sanger kinders seksueel misbruik het. Die Crown Prosecution Service het die saak verlede week laat vaar en gesê daar is onvoldoende bewyse om te vervolg. Die BBC het om verskoning gevra vir enige nood wat veroorsaak is en die Suid-Yorkshire-polisie het om verskoning gevra oor sy hantering van die ondersoek. Sir Cliff oorweeg dit om regstappe te neem, 'Daar moes onwettige samespanning gewees het. Ek het nog nooit geweet dat ondersoeke met beligting en kameras en spesiale hoeke vir die helikopter plaasvind nie. Ek voel ek het alle reg om te dagvaar vir growwe inbreuk op my privaatheid.'